“Put your WASTE in its place!”
Deur Amerandi Valentyn en Matthew Sheldon
Bergrivier Munisipaliteit spandeer ongeveer R40 miljoen per jaar aan vullisverwydering wat
hoofsaaklik spandeer word aan die aankoop van vullissakke, vervoer – en stortingkostes.
Bergrivier Munisipaliteit het geen gelisensieerde stortingsterreine nie en vervoer alle
huishoudelike vullis na stortingsterreine in Malmesbury en Vredenburg in terme van
ooreenkomste met Swartland- en Saldanhabaai Munisipaliteite.
Die herwinning van herbruikbare afval vorm deel van die munisipaliteit se aktiwiteite wat nie
net die koste van die verwydering van huishoudelike afval aansienlik kan verlaag nie, maar ook
ons omgewing beskerm, skoon hou en bewaar.
Die volgende kategorieë van vullis word onder huishoudelike vullisverwydering hanteer:
Swartsakke: Alle nie-herwinbare huishoudelike afval. Swart sakke word jaarliks aan elke
huishouding voorsien, waarvan die koste by die vullisverwyderingstarief ingesluit is. Sakke moet
by die munisipale kantore afgehaal word met die toon van u munisipale rekening. Om inwoners
aan te moedig om deel te neem aan die herwinningsprogram, word slegs een swart sak per week
voorsien en verwyder.
Groensakke: Alle tuinvullis word plaaslik gestort en verwerk vir kompostering. Inwoners is
beperk tot twee groen sakke per week en indien meer tuinvullis gegenereer word, kan die
eienaar aanvra dat ‘n vrag tuinvullis deur die munisipaliteit verwyder word teen ‘n tarief wat
jaarliks bepaal word. Die tarief beloop tans R229.90 per vrag (trekker en wa) of gedeelte daarvan.
Deurskynendesakke: Alle herwinbare huishoudelike materiaal en afval. Sakke word weekliks
aan huishoudings voorsien volgens die aantal sakke wat deur die herwinnningspan gekollekteer
word. (Geen beperking op deurskynendesakke nie.) Kontak u plaaslike munisipale kantoor vir
meer inligting oor produkte wat herwin kan word.
Landbou: Geen munisipale vullisverwydering vind plaas in landelike gebiede waar afval op
plase of buite dorpsgebiede genereer word nie. Daar word egter voorsiening gemaak dat
bruikbare herwiningsafval van plase kosteloos by die onderskeie herwinningsterreine afgelaai
kan word, asook die wegdoen van nie-herwinbare materiaal by die plaaslike oorlaaistasie teen
vasgestelde tariewe wat jaarliks bepaal word.
Besighede: Die huishoudelike tarief vir vullisverwydering wat jaarliks bepaal word is tans
R256.03 (BTW ingesluit) en is ook op alle besighede van toepassing as ‘n maandelikse minimum
diens vir die verwydering van twee sakke een maal per week. Enige addisionele verwyderings
moet vooraf met die rekeninge afdeling van Bergrivier Munisipaliteit gereël word.