Gemeenskapsveiligheidsbeplanning Velddrif – Uitnodiging na Gesamentlike Werksessie te Velddrif Periode Vrydag 26 Mei tot Saterdag 27 Mei 2023
Goeie dag,
Gemeenskapsveiligheid is daarop gemik om gemeenskappe te bemagtig om selfbeskerming in hoop, vertroue en geloof in ons Hemelse Vader na te streef. Dit impliseer ook moed en deursettingsvermoë, om eie potensiaal te ontwikkel ten einde misdaad-terreur effektief te help bekamp.
Dit is die oogmerk van ons Velddrif gemeenskap om doeltreffende planne vir veiligheid daar te stel en om ons gemeenskappe hierin te ondersteun. Ons leuse kortliks is om mee te help om ons mense te beveilig en hoop en vertroue in Geloof te skep!.
Ernstige kommer bestaan in die gemoedere van vrede-liewende gemeenskappe oor eskalerende misdaad in Suid-Afrika en plekke soos Velddrif. Almal is dit eens dat die situasie daagliks versleg. Dit word beklemtoon dat alles wat ons gemeenskap ter selfbeskerming aanpak, professioneel, korrek en wettig is.
Optredes teen misdaad is op die skep van veilige toestande ingestel. Dit behels die paraatheid van ons gemeenskappe en die bereidwilligheid om ons self, die omgewing en vrede-liewende gemeenskappe teen ‘n gemeenskaplike misdadiger element te beskerm. Daar word gepoog om dit in samewerking en harmonie met die SAPD en ander relevante rolspelers te verwesenlik.
Daar is besluit om ‘n omvattende beplanningsessie te hou, wat sal aanleiding gee tot die daarstelling van omvattende planne vir die beveiliging van die Velddrif area en sy gemeenskappe. Roland de Vries en Hans-Jurie Moolman sal ons met die fasilitering van die werksaamhede bystaan.
Ons wil graag die leiers van alle relevante belangegroepe by die werksessie betrek. Die werksaamhede word derhalwe as ‘n inisiatief in noue samewerking met die gemeenskap beskou.
U word hiermee vriendelik uitgenooi om ons gesamentlike werksessie van Vrydag 26 Mei tot Saterdag 27 Mei 2023 by te woon (kyk aangehegte program, Aanhangsel A). Die werksessie sal te Velddrif plaasvind en die presiese ligging sal later bekend gemaak word. Die werksessie het ten doel om ons huidige planne vir veiligheid te hersien en gelykertyd ‘n gesamentlike plan vir die beveiliging van Velddrif en sy omgewing te formuleer. Dit sluit die omgewing kleiner dorp/nedersetting en landelike gemeenskappe in. Administratiewe reëlings sal later bekend gemaak word. Verversings sal vir bogenoemde geleenthede gereël word. Die verrigting sal Saterdag met ‘n funksie afgesluit word.
Bevestiging van bywoning en enige navrae kan aan Johan Moolman, seltelefoon 0781002058, gerig word.
Vriendelike Groete,
Johan Moolman
Wyk 7 Raadslid
LAAT ONS SAAMWERK EN HIERDIE BEPLANNINGSAVONTUUR GENIET
Die proses is op volle deelname gebaseer, die deel van kennis en ervaring en die skep van nuwe kennis en begrip
Goeie beplanning spaar lewens en lei tot aksie en ekonomiese-sosiaal-maatskaplike bestendigheid … ‘n gemeenskapsgedrewe veiligheidsinisiatief deur ons mense, vir ons mense!
OPMERKING: Na afloop van die werksessie sal Roland de Vries help met die skryf van die operasionele plan en implementeringsinstruksies. Dit kan die ontwikkeling van toepaslike beleid, leerstellings (doktrine), staande operasionele prosedure (SOP) en die opstel van uiteindelike gebeurlikheidsplanne insluit.
Bespreek asb. jou plek vandag. Ons moet voorberei vir hoeveel mense teenwoordig gaan wees.
Aanhangsel A
PROGRAM VIR GESAMENTLIKE WERKSESSIE VIR GEMEENSKAPSVEILIGHEID VELDDRIF – VRYDAG 26 MEI TOT SATERDAG 27 MEI 2023
STAP 1 – DAG 1 – VRYDAG 26 MEI 2023 14:00 tot 18:00
WERKSESSIE SLEGS VIR DIE KERN LEIERSPANNE VAN VELLDRIF SE VEILIGHEID GEMEENSKAP
Algemene inligtingsessies oor gemeenskapsveiligheid konsepte, terreinwaardering, oriëntasie en riglyne vir beplanning word vir die volgende dag se beplanningsessie opgestel
14: 00 – 18:00: Bywoning deur kern leier elemente van Velddrif se veiligheids-gemeenskappe. Inligting rakende gemeenskapsveiligheid konsepte en aktiwiteite. Die leierskap element begin dan met die voorbereiding en ontleding van die terrein (kaart- en terrein-waardering – Kaarte topografies 1: 150 000). Die voorbereiding van die situasie-ontleding word afgehandel vir die volgende dag se werkwinkel. Die proses word noukeurig gefasiliteer.
- 14:00: arriveer. Tee / koffie / verversings.
- Verwelkoming, inleiding, opening met Skriflesing en Gebed en verduideliking van die doelwitte van die werkswinkel.
- Inleidende aanbieding en besprekings (kort opsommings – uithandigingstukke beskikbaar) – algemene oriëntasie en om deelnemers in te lig oor die gesamentlike operasionele beplanningsiklus.
- Algehele strategie vir gemeenskapsveiligheid en die bedreiging.
- Beginsels van toepassing in die stryd teen misdaad-terreur.
- Ontwikkeling van gemeenskapsveiligheidsteunkringe.
- Vestiging en ontwikkeling van veiligheidstrukture.
- Operasionele konsepte en aktiewe gebiedsbeskermingsoperasies.
- Beskrywing van operasionele beplanningsproses wat gevolg word.
- Terreinwaardering en kaart voorbereiding.
- Die werkswinkel word afgesluit met ‘n bespreking en riglyne van die groep vir voortgesette veiligheidsbeplanning die volgende dag.
- 18:00: Afsluiting.
STAP 2 – DAG 2 – SATERDAG 27 MEI 2023
UITGEBREIDE WERKGROEP VAN VELDDRIF SE VEILIGHEID GEMEENSKAP – GESAMENTLIKE OPERASIONELE BEPLANNING
Algemene inligtingsessie oor gemeenskapsveiligheid konsepte en terrein oriëntasie vir nuwe deelnemers wat aansluit. Gesamentlike operasionele beplanning begin: (1) Waardering van die bedreiging; (2) waardering van eie vermoëns; (3) bepaling van ondersteuningsvereistes; (4) ontwikkeling van die operasionele planne en strukture; oorlogspel (simulasie); finalisering van die operasionele planne.
- 07:30: arriveer. Tee / koffie / verversings.
- Verwelkoming, inleiding, opening met Skriflesing en Gebed en bevestiging van die doelwitte van die werkswinkel.
- Kort inleidende aanbieding en besprekings deur middel van kort opsommings en bevestigings na afloop van die vorige dag se werkswinkel. (uithandigingstukke beskikbaar) – algemene oriëntasie en om deelnemers in kennis te stel wat nie die eerste werksessie bygewoon het nie.
- Algehele strategie vir gemeenskapsveiligheid en die bedreiging.
- Beginsels van toepassing in die stryd teen misdaad-terreur.
- Ontwikkeling van gemeenskapsveiligheidsteunkringe.
- Vestiging en ontwikkeling van veiligheidstrukture.
- Operasionele konsepte en aktiewe gebiedsbeskermingsoperasies.
- Beskrywing van operasionele beplanningsproses wat gevolg word.
- Voorligting en bespreking van die invloed van terrein – bepaal / bevestig areas van operasionele verantwoordelikheid, belangegebiede, operasionele sektore en invloed van terrein op eie vermoëns teenoor die teenstanders (misdadigers).
- Tee / koffie.
- Verdeling in afsonderlike beplanningsgroepe – inligting, operasies en algemene ondersteuning.
- Sindikate werk in beplanningsgroepe – (1) Inligting: bedreiging; risiko’s; kwesbaarhede en inligting beplanning; (2) Operasies: Ontleding van eie vermoëns beskikbaar vir veiligheid en ontwikkeling van die operasionele plan; (3) Algemene ondersteuningsbeplanning en ondersteuningsvereistes: Tegnologie, sein en telekommunikasie, naastesorg en die skep van hoop, en die identifisering van behoeftes en vereistes vir ander algemene ondersteuning van veiligheidsoperasies (soos vir personeel, opleiding, finansies, regsondersteuning, mediese ondersteuning, naastesorg, logistiek, infrastruktuur en uitrusting).
- Middagete
- Aanbiedings, besprekings en formulering van operasionele konsepte en operasionele planne vir die gebied.
- Simulasie-oefening (‘oorlogspel’) en verfyning van oorkoepelende beplanningsraamwerk.
- Riglyne / besluite vir deurlopende en voortgesette operasionele beplanning en optrede.
- 17:00: Afsluiting en gesamentlike funksie.