VELDDRIF CHAMBER OF COMMERCE Constitution
An Organization representative of businesses and organizations within the Velddrif, Port Owen, Laaiplek, Noordhoek and Dwarskersbos areas EventsGet In TouchDie naam van die Kamer is: Velddrif Sakekamer
DOELSTELLING:
1. Die doelstelling van die Kamer is die volgende:
a) Die samevoeging van Sakepersone in ‘n organisasie met sake atmosfeer.
b) Om die sakelewe te bevorder deur bedryfsleiding en voorligting in die sakewêreld te gee, om praktiese diens aan sy lede te lewer en hulle te beskerm teen enige onbillike maatreël wat hulle mag benadeel; om besigheidsaangeleenthede in belang van sy lede te bespreek; besluite te neem en maatreëls te tref vir die uitvoering van sodanige besluite.
c) Om lesings te reël en besprekings te voer oor enige kommersiële onderwerp, en wanneer nodig, beskrywingspunte vir kongresse in te stuur.
d) Om grondige ondersoek in te stel na enige saak wat die sakelewe raak en om enige inligting wat vir die sakeman van waarde mag wees, te versamel, te verwerk en te versprei
e) Om enige ekonomiese beleid wat die handel in besonder of die ekonomiese lewe in die algemeen raak en wat tot die voordeel van die sakewêreld strek, te bevorder.
f) Om sy lede in sake wat die oprigting en uitbreiding van sakeondernemings raak, behulpsaam te wees en hulle met hulp en voorligting te bedien, met die voortbehoud dat die Kamer as sodanig nie self mag deelneem aan die handel en nywerheid van die land nie.
g) Om by die verbruiker deur middel van voorligting, gesamentlike reklameveldtogte en op enige ander wyse groter belangstelling in die handel te wek, hom te beweeg om ‘n meer simpatieke houding daarteenoor te neem en nie onbillike eise aan die sakeman te stel nie, maar ook onbillike behandeling deur die sakelui aan te meld by die Kamer.
h) Om gesonde beginsels van kredietbeleid onder sy lede te propageer en wat kredietverlening betref so ver as moontlik onderlinge samewerking van sy lede te bewerkstellig.
i) Om met ander liggame en verenigings wat geheel of gedeeltelik dieselfde doelstellings nastreef, saam te werk
j) Om in medewerking met sy lede beywer vir die opleiding en voorligting van jongmanne en vroue in die handel en nywerheid, deur ondersteuning toe te sê aan opleidingskole, deur reëlings te tref met handelshuise of instellings vir die indiensneming van ingeskrewe studente vir bepaalde tydperke deur goedkeuring of erkenning van diplomas of grade uitgereik deur opleidingsinrigtings en / of die uitreiking van die diplomas of sertifikate na keuring van studente wat ‘n goedgekeurde leertydperk voltooi het. Waar fondse dit toelaat, mag finansiële hulp aan handelsstudente verleen word op voorwaardes waaroor die Uitvoerende Komitee moet besluit.
k) Om gesonde en harmoniese samewerking te verkry tussen werkgewers in die sakelewe en gesonder arbeidstoestand te bewerkstellig
l) Om enige roerende sowel as onroerende eiendom te koop, te huur of andersins te verkry wat vir die huisvesting van die kantore van die Kamer en vir enige ander doeleindes van die Kamer nodig mag wees en om sulke eiendom of ‘n deel daarvan oor te dra, te verkoop, verhuur, verpand, of daarmee weg te doen op ‘n wyse soos die bestuur mag besluit. m) Om lede aan te moedig tot kwaliteit diens en mededingender pryse met groter sentra en die publiek te motiveer om plaaslik te koop
LIDMAATSKAP:
2. Lede sal uit twee klasse bestaan, naamlik:-
a) Gewone Lede, en
b) Ere Lede
Gewone Lede
i) As gewone lede kan toegelaat word handelaars, nyweraars, finansiers, dienslewerende ondernemers, verenigings, organisasies en persone wat direk of indirek in die sakelewe in die Bergrivier Munisipale gebeid, Velddrif / Laaiplek area, betrokke is.
ii) Aansoek om lidmaatskap moet op die voorgeskrewe vorm geskied.
iii) Die finale goedkeuring van lidmaatskap berus by die bestuur.
Ere-Lede
As ere-lede kan toegelaat word persone wat op grond van hulle diens aan die Kamer, bekwaamheid en ervaring as sodanig gekies word. Ere-lede word deur die bestuur gekies en sal dieselfde voorregte as die gewone lede besit, behalwe dat hulle nie stemreg het nie. Die bestuur het egter die bevoegheid om die naam van enige ere-lid van die lys te skrap.
TOEREDINGS- EN LIDMAATSKAPGELDE
3. Ere-Lede : betaal geen toetredings of lidmaatskapgelde nie
4. Gewone Lede: Betaal toetredings- en lidmaatskapgelde soos van tyd tot tyd deur die Bestuur van die Kamer vasgestel.
4.1. Bykomende lede van ‘n firma sal 75% van die gewone lidmaatskapfooi betaal.
4.2 Meer as twee lede van ‘n firma mag aansluit maar stemreg is onderhewig aan die bepalings van paragraaf 12
4.3 Lidmaatskap sertifikate sal aan lede uitgereik word en moet vertoon word op ‘n opvallende plek op sy besigheidsperseel
BEëNDIGING VAN LIDMAATSKAP:
5. In die volgende gevalle word die lidmaatskap van ‘n lid beëindig:-
i) As ‘n lid skriftelike kennis gee van sy voorneme om te bedank, en op voorwaarde dat hy drie maande voor die end van die boekjaar kennis gee. Hy bly egter nog verantwoordelik vir sy lidmaatskapgelde vir die lopende jaar.
ii) As ‘n lid van die Kamer insolvent raak, verval sy lidmaatskap outomaties.
iii) Wanneer ‘n lid deur die bestuur geskors word.
iv) Lidmaatskap sertifikaat moet ingehandig word.
SKORSING VAN LEDE:
6 Die bestuur sal in die volgende gevalle die bevoegdheid besit om ‘n lid van die Kamer te skors:-
i) As ‘n lid se lidmaatskapgelde ten spyte van behoorlike kennisgewing vir langer as 6 maande agterstallig is
ii) As ‘n lid volgens die diskresie van die Bestuur teenstrydig handel met die doelstellings en statute van die Kamer
iii) As die gedrag van ‘n lid, volgens die diskresie van die Bestuur, sodanig is dat dit hom ongeskik maak om as lid van die Kamer aan te bly.
iv) ‘n Lidmaatskap sertifikaat moet ingehandig word by skorsing.
VERTEENWOORDIGING VAN SAKE-ONDERNEMINGS:
7. Alle sake-ondernemings wat lede van die Kamer wil word, moet op skrif die naam en adres van die persoon (sy plaasvervanger) wat hulle by die Kamer moet verteenwoordig aan die Sekretaris stuur, en alleen ‘n persoon wat deur die Bestuur goedgekeur word, sal toegelaat word om die voorregte van lidmaatskap van die saak wat hy verteenwoording, uit te oefen. Geen persoon behalwe ‘n eienaar, vennoot, direkteur, bestuurder, onder-bestuurder, rekenmeester of sekretaris van so ‘n saak kan tot verteenwoordiger of plaasvervanger benoem word nie.
8. ‘n Plaasvervanger van ‘n verteenwoordiging mag alle vergaderings bywoon wat die lid nie kan bywoon nie, en mag dan alle bevoegdhede van die lid uitoefen.
ALGEMENE VERGADERING:
9. ‘n Jaarlikse Algemene Vergadering sal gehou word so gou moontlik na die finansiële jaar as wat die Bestuur geskik vind. Op hierdie vergadering sal die Bestuur verslag gee van die afgelope jaar se werk en die finansiële staat vir goedkeuring voorlê. Die Bestuur en ‘n ouditeur word op hierdie vergadering gekies. ‘n Skriftelike kennisgewing van so ‘n vergadering moet ten minste veertien dae voor die tyd aan alle lede gestuur word. Een derde van die lede maak ‘n kworum uit.
10. ‘n Spesiale Algemene Vergadering kan in die volgende gevalle belê word:
i) Wanneer die Bestuur daartoe besluit.
ii) Wanneer een derde van die lede met ‘n minimum van vyf skriftelik daarom vra. In so ‘n geval moet ‘n uiteensetting gegee word van die redes waarom so ‘n vergadering belê moet word en geen ander besigheid mag op so ‘n vergadering behandel word nie. In elkeen van hierdie getalle word ‘n kworum deur een derde van die ledetal gevorm.
11. Die voorsitter van die Kamer sal optree as voorsitter van alle algemene vergaderings van die Kamer, of in sy afwesigheid, die onder-voorsitter. In die afwesigheid van ‘n voorsitter of onder-voorsitter, kan een van die lede van die Bestuur tot voorsitter gekies word en in die afwesigheid van so ‘n lid kan een van die aanwesiges tot voorsitter gekies word.
STEMMING:
12. Stemming geskied deur die opsteek van hande tensy vyf lede stemming deur middel van stembriefies vereis. Vir gewone sake word die besluite deur ‘n meerderheid van stemme beslis, behalwe waar ‘n spesiale meerderheid vereis word.
12.1 ‘n Firma wat twee of meer lede ingeskryf het sal ‘n maksimum van twee stemme hê.
13. Enige mosie, ten opsigte waarvan die Kamer ‘n beslissing gevel het, sal nie weer vir bespreking ingedien word alvorens ‘n periode van ses maande verloop het nie, behalwe waar die bestuur dit aanbeveel.
DIE BESTUUR
a) SAMESTELLING:
14. Die Bestuur sal nie uit minder as agt lede bestaan nie. Bestaan uit: Voorsitter, Onder-Voorsitter, Sekretaris, Tesourier en vier addisionele lede.
15. Die Bestuur word op ‘n Algemene Vergadering gekies met die voorbehoud dat die Bestuur die bevoegdheid sal besit om nog lede te koopteer indien hulle dit wenslik vind.
16. Alle lede van die Bestuur tree elke jaar af, maar kan herkiesbaar wees.
17. Enige tussentydse vakature wat op die Bestuur mag ontstaan, mag vir die onverstreke tydperk deur die Bestuur aangevul word.
18. Een derde van die lede van die Bestuur vorm ‘n kworum.
b) BEVOEGDHEDE:
19. Die Bestuur besit die volgende bevoegdhede:-
a) Om roerende sowel as onroerende eiendom te koop, te huur, of andersins te verkry, wat vir die huisvesting van die Kamer se kantore of vir enige ander doeleindes van die Kamer mag nodig wees, en om sulke eiendom of ‘n deel daarvan te dra, te verkoop, verhuur, verpand of daarmee weg te doen op ‘n wyse soos die Bestuur mag besluit.
b) Om voorsiening te maak vir die aankoop van alle uitrusting, skryfmateriaal, ens. Vir kantoordoeleindes.
c) Om amptenare aan te stel en te ontslaan en hul salarisse en verpligtinge vas te stel.
d) Om die prosedure op die vergadering van die Bestuur te reël.
e) Om van tyd tot tyd een of meer sub-komitees aan te stel, bestaande uit lede sowel as nie-lede van die Kamer, en aan sulke Komitees sodanige bevoegdhede te delegeer as wat hulle wenslik vind. Alle Sub-Komitees wat deur die Bestuur benoem word, sal aan laasgenoemde liggaam verslag lewer wat dit op sy beurt aan die Kamer sal rapporteer as dit nodig geag word.
f) Om die toelating van gewone sowel as ere-lede tot die Kamer te reël.
g) Om die lidmaatskap van enige lid te beëindig indien dit wenslik geag word, met inagneming van die verdere bepalings soos vervat in klousile 6.
h) Om die algemene doelstellings van die Kamer te bevorder.
AFWESIGHEID VAN LEDE VAN DIE BESTUUR OP VERGADERINGS
20. As ‘n lid van die Bestuur sonder verskonings vir drie agtereenvolgende vergaderings van die Bestuur afwesig is, hou so ‘n lid outomaties op om lid te wees van die Bestuur, maar is herkiesbaar.
VERGADERING VAN DIE BESTUUR
21. Die Bestuur sal ten minste een keer elke maand vergader, maar op versoek van die Voorsitter, of in sy afwesigheid, deur die onder-Voorsitter, kan die sekretaris van tyd tot tyd spesiale vergaderings van die Bestuur reël.
ONTBINDING EN AMALGAMASIE
22. Die Kamer mag ontbind of gelikwideer of gemalgameer word met ‘n ander liggaam of vereniging deur ‘n twee-derde meerderheid besluit van die teenwoordige lede op ‘n Spesiale Algemene Vergadering wat gehou word volgens klousile 10 en 11 van die Konstitusie en Regulasies.
VERHOUDING VAN DIE KAMER TOT DIE AFRIKAANSE HANDELSINSTITUUT
23. Die Kamer kan geaffilieer wees met die Afrikaanse Handelsinstituut
REGISTRASIE VAN EIENDOM
24. Alle roerende sowel as onroerende eiendom van die Kamer sal in die naam van die Kamer geregistreer word en alle kontrakte, verbande, hipoteke en ander wettige dokumente wat namens die Kamer geteken moet word, sal op gesag van ‘n besluit van die Bestuur deur twee lede van die Bestuur en die sekretaris geteken word.
FINANSIëLE JAAR
25. Die finansiële jaar loop van 1 Maart tot 28/29 Februarie.
REKENINGE
26. Alle tjeks moet deur die Tesourier, Sekretaris, of Voorsitter of onder-Voorsitter onderteken word.
INSPEKSIE VAN BOEKE
27. Elke lid sal gedurende besigheidsure vrye toegang hê tot die notuleboeke van die Algemene Vergaderings van die Kamer tesame met ander notules, rekenings en dokumente, maar sal nie die bevoegdheid hê om sodanige stukke sonder toestemming van die Voorsitter uit die kantoor van die Kamer te verwyder nie.
OUDITEURE
28. Die rekenings van die Kamer sal jaarliks deur ‘n persoon ge-ouditeer word wat deur die Kamer op ‘n Algemene Jaarvergadering van die Kamer aangestel word. Indien die benoemde ouditeur nie in staat is om sy pligte uit te voer nie, het die Bestuur die bevoegdheid om die vakature aan te vul.
NOTULE
29. Behoorlike notule sal gehou word van alle vergaderings.
WYSIGINGS VAN DIE KONSTITUSIE EN REGULASIES
30. Wysigings in die Konstitusie en Regulasies van die Kamer moet eers deur ‘n meerderheidsbesluit van die Bestuur goedgekeur word en moet dan deur ‘n twee-derde meerderheidsbesluit op ‘n Algemene Jaarvergadering of op ‘n spesiale Algemene Vergadering wat vir die doel belê is, en waarvan minstens 21 dae behoorlik kennis gegee is aan almal wat daarop geregtig is om kennis te ontvang aangebring word. Sodanige wysigings moet veertien dae voor die vergadering aan alle lede van die Kamer uitgestuur word.
ALGEMEEN
31. Die ondertekenaars van die Statute sal lede wees van die eerste Bestuur.
CONTACT DETAILS:
081 591 0815 (Vicky)
secretary@velddrif.info
082 415 5799 (Johnny)
chairman@velddrif.info
078 063 1278 (Jillian)
vicechairman@velddrif.info